GRAAFFIKAANS - Elise Bishop

‘Ek had geen skoling wat skryf aangaan nie en skryf bloot op gevoel  oor mense en dinge wat my grootword geraak het,  meestal in die ‘streektaal’ Graaffrikaans wat algemeen gepraat is op Graaff-Reinet en omstreke.’

Elise dra goeie kennis oor  ʼn Afrikaanse taal wat min mense van bewus is – Graaffikaans.

Sy is ’n gereelde bydraer tot LitNet, skryf opsetlik in Graaffrikaans – die Afrikaans wat sy uit haar jeugjare in Graaff-Reinet onthou. Dit is ʼn mengsel van Afrikaans en Engels, maar daar is ’n patroon wat mens aangryp en Elise weet net hoe om lieflike nostalgiese vertellings te skryf in haar streekstaal, Graaffikaans.

Haar kortverhale van Graaffernet (soos sy dit uitspreek) wat in Graaffrikaans geskryf is, word oor  ’n paar maande gepubliseer. Hierdie verhale en die skryfstyl is aan die afsterf en Elise is die enigste skrywer wat nog vertroud is met die dialek van Graaffrikaans. Dit moet behoue bly vir ons nageslag, maar ook vir hulle wat altyd geheg sal bly aan hul tuisdorp, Graaff-Reinet.

Graaffrikaans is vir haar ’n spreektaal, ’n oretaal. Dis nie die Afrikaans van die taalonderwyser of predikant wanneer hy sy nering uitvoer nie, dis die algemene taalgebruik in daaglikse omgang tussen Graaffernetters met mekaar en ander. Dis ’n lui taal in soverre jy vinnig praat en dalk instinktief nie die korrekte woord kon vertaal kry nie en jy vervang hom dan met een uit die ander taal. Uit hierdie oogpunt gesien kry jy daadwerklik dat Afrikaans deurspek is met Engels, maar ook die teenoorgestelde, dus Engels deurspek met Afrikaans. Als is afhangend van waarop jou huistaal gegrond is, hetsy Afrikaans of Engels. Soms is dit ook nie slegs net ’n woord nie, maar selfs sinsnedes in die ander taal.

Die mag van gewoonte maak ook maar sy bydrae.

“Dit kom alles egter neer op die groot invloed wat die 1820-setlaars met hul Engels gehad het op Hollands, Afrikaans, Frans – ’n merry mixture called Graaffrikaans,” vertel Elise.

Dis waarskynlik reeds langer in gebruik as die begin van die 20ste eeu. Die twee groot skole op die dorp is gestig in die vroeë 1900’s en alhoewel korrekte taalgebruik daar geleer en onderrig sou word, moet ’n mens ook nie uit die oog verloor dat Afrikaans eers in 1925 erken is as amptelike taal nie. Haar eie ervaring kom uit die eerste twintig jaar van haar lewe, toe sy op Graaff-Reinet gebore was en daar grootgeword het. 

Almal het Graaffrikaans gepraat – selfs die hooghartigstes. Laasgenoemdes dalk minder pertinent. Dit was ’n kommunikasiemiddel wat almal gebruik het: Die slagter praat van cutlets en nie kotelette nie; die motorwertuigkundige praat van ’n spanner en nie ’n moersleutel nie, en so kan mens aanhou,” verduidelik Elise, “en dan is daar boonop nog anglisismes ook, soos flour en meel wat veralgemeen is na flouer.”

“Ek woon reeds afgelope 50 jaar nie meer daar nie, maar my kontak met dorpenaars sê vir my dis steeds in gebruik. Dalk nie so algemeen sedert “digitale taal” oorneem nie.” 

“Ek het na ’n Engelse skool gegaan, en alhoewel mens reeds Engelse woorde gebruik het as ek dink aan woorde soos custardjamchutneybananassuitcase en bicycle, het ek nie geweet hoe om te vra om die kamer te verlaat nie! Die kinders het my dit tot matriek nooit laat vergeet nie. Ek was dus op ’n baie vroeë ouderdom bewus van die meng van tale.”