Deernis organisasie - Hannelie gee om
Hoe het hierdie organisasie ontstaan en wanneer?
Hannelie Gee Om het begin in 2012 toe ek en my oorlede ma (Rina) begin het om dierekombersies vir organisasies en instansies te hekel. Hieruit het HanRi Dierekos & Kombersies ontstaan. Ons het vir nie-winsgewende organisasies asook veeartse van Riversdal tot met Mosselbaai voorsien van gehekelde kombersies en dierekos. Hierdie projek sit ek nog steeds voort na my ma se afsterwe in Januarie 2020.
Deur hierdie projek het ons verneem van behoeftige gesinne wat diere het en in 2014 het ons begin om kospakkies aan die gesinne ook te voorsien. Ons het verneem van ander gesinne regoor die Suid-Kaap en so het die Suid-Kaap Kospakkieprojek ontstaan. Ons voorsien gesinne van Swellendam tot en met Plettenbergbaai, kus sowel as binnelands van kospakkies. Weens die Covid-19 inperking en my ma se afsterwe, was ek genoodsaak om hierdie projek drasties in te beperk weens die min of amper geen donasies wat ek ontvang, omdat ek nie ’n geregistreerde organisasie is nie, ek doen dit uit die liefde van my hart en kan nie meer soveel gesinne help wat ek graag wil nie. Soms is ek genoodsaak om die behoeftige gesinne te verwys na ander organisasies met wie ek nou saamwerk in die Suid-Kaap.
Voor die inperking het ek en my ma net so oor die 300 gesinne versprei oor die hele Suid-Kaap gehad en tans kan ek net 150 gesinne help. Voor die inperking kon ek ten minste elke maand ’n klein kospakkie vir elke gesin gee en tans kan ek net so een keer in twee of drie maande ’n klein kospakkie voorsien.
In 2015 het ek en my ma begin om nie net vir hierdie behoeftige gesinne Kersfeesgeskenke te gee nie, maar ook vir behoeftige bejaardes bo 60 en kinders onder 18 waarvan ons bewus was in die gemeenskap. Hierdie bejaardes en kinders is nie in ouetehuise of kinderhuise nie en hulle woon nog op hulle eie of by hulle ouers en ontvang geen hulp van enige ander organisasie nie. Ons het begin deur ’n basiese geskenk te gee wat bestaan het uit toiletware soos tandepasta, tandeborsel, seep, waslap en ʼn klein pakkie lekkergoed.
Ons het ook in 2015 begin om eksklusief vir die persone wat in Albertinia op Kersdag werk ’n lekkergoedpakkie te gee – ’n toiletrol gevul met lekkers en mooi toegedraai – asook vir die hele SAPD van Albertinia. Weens te min donasies is hierdie projek ook ingeperk.
In 2016 het ons begin om ’n wenslysie op te stel van wat die bejaarde of kind graag wil ontvang vir Kersfees. Die kind of bejaarde wat nie ’n wenslysie-item ontvang nie, ontvang steeds die basiese Kersfees-pakkie van toiletware en ’n lekkergoedpakkie.
Die Kersfeesprojek en die Terug Skool Toe-projek word saam as een hanteer, omdat Desember en Januarie op mekaar volg.
Ek hanteer nog steeds die drie projekte van die Dierekos & kombersie, die kospakkie en Kersfees & Terug Skool Toe-projekte op my eie en het elke jaar verskeie vrywilligers en studente wat my hiermee help.
Waaruit spruit die kinders en volwassenes se behoeftes – is dit uit kinderhuise en ouetehuise?
Die kinders en bejaardes woon op hulle eie en is geensins in kinderhuise of ouetehuise nie. Die grootste behoefte is enige kruideniersware, nie net voedsel nie, asook skryfbehoeftes vir terug gaan skool toe die volgende jaar, want elke graad het sy eie lys van benodigdhede wat deur die skool uitgestuur word.
Is daar ’n groot behoefte vir Afrikaanse leesboeke onder die kinders – is daar genoeg leesstof om hulle mee aan te spoor om te lees?
Ek persoonlik dink daar is ’n reuse behoefte hieraan. Ek weet daar was eens op ’n tyd ’n projek geloods deur die Hessequa Munisipale Biblioteke om kinders aan te spoor om meer te lees, maar dit was net vir laerskoolkinders gewees. Die hoërskoolkinders word nie aangemoedig nie. Ek ondervind dit ook in my beroep dat mense, kinders sowel as volwassenes sukkel om reg te skryf, want hulle kan nie behoorlik lees nie. Hulle is te gewoond aan SMS en whatsapp-taal.
Het veral die kinders toegang tot boeke soos woordeboeke, naslaanboeke en studieboeke? Is daar biblioteke in die omgewing?
In sommige dorpe is daar munisipale biblioteke en skoolbiblioteke, maar daar is veral ’n groot behoefte by die plaasskole en klein afgeleë plekke soos Melkhoutfontein en Witsand waar daar nie biblioteke is nie. Die mobiele biblioteke wat hierdie plekke besoek bring nie altyd die boeke wat kinders nodig het vir ’n spesifieke skooltaak nie en hierdie kinders het nie toegang tot die internet nie.
Wat is julle grootste uitdaging(s) as organisasie?
Om genoeg donasies en skenkings te ontvang, omdat ek weens verskeie redes nie geregistreer is nie en hierdie projekte uit die liefde van my hart doen en ook ter nagedagtenis van my ma. Ek noem dit die sneeubal-effek omdat omdat ek die projekte self hanteer en finansier en ek kan ek nie die projekte aan die gang hou deur my inkomste nie. Ek het tans net een persoon wat my elke maand finansieel help met ’n R1,000 skenking. Soms het ’n huisgesin koopkrag nodig of ’n bejaarde persoon het dringende medikasie nodig wat nie deur die kliniek voorsien word nie of ek moet soms help met petrolgeld om ’n kospakkie op ’n ander dorp te kry of ek moet kruideniersware in grootmaat aankoop, omdat daar nie genoeg skenkings ingekom het nie. As iemand my vra watter soort skenkings ons benodig, antwoord ek altyd enige kruideniersware wat jy in jou huishouding gebruik is ideaal en sluit nie net voedsel in nie, maar ook toiletware, persoonlike higiëne items, skoonmaakmiddels en so meer. Nog ’n uitdaging is afsetpunte in dorpe waar daar nie tans afsetpunte is nie. Al wat dit behels is om skenkings en donasies namens my te ontvang en dit te hou totdat ek of ’n geleentheid dit kom afhaal. Afsetpunte kan persone of besighede wees. Dit is ook ideaal vir ’n besigheid om op die wyse meer kliënte te kry, want soms ondersteun die skenker dan daardie besigheid.
Indien iemand iets wil stuur vir ’n kind of volwassene wat op die wenslys verskyn, moet hulle dit spesifiek merk?
Ja, by elke kind is daar ’n C-nommer by bejaardes ’n A-nommer en by elke gesin ’n F-nommer; dit maak dit net makliker om op die lys na te gaan vir wie dit bedoel is en na watter dorp die pakkie heen moet gaan. Indien jy verkies kan die naam ook bygesit word.
Kan skenkers ook geskenkbewyse van ander besighede aan behoeftiges op die wenslys plaas, soos bv. Mr. Price, P&P Clothing, Bargain Books, PNA, Crazy Store, PeP, ens.?
Absoluut, deur ’n geskenkbewys/e te skenk, maak dit vir my makliker om nie net een kind of bejaarde te help met ’n geskenk nie, maar dalk twee of meer. Enige geskenkbewyse is welkom veral van kettingswinkels soos bv. Checkers waar ons items kan koop vir ’n kospakkie of ’n speelding/storieboek of ’n toiletwarepakkie of skryfbehoeftes en so meer.
Kry julle oor die algemeen goeie reaksie van die publiek en ander besighede?
Daar is die gereelde skenkers wat elke jaar betrokke is by die Kersfees- en ander projekte, maar besighede is nie so betrokke by die projekte nie, omdat ek nie geregistreer is nie en die besighede wil skenkings of donasies terugeis van SARS. Ek sal graag wil hê besighede moet meer betrokke raak by een of meer van my projekte, want dit bring outomaties voete na hulle besigheid toe, veral as die besigheid bereid is om as afsetpunt te dien vir een of meer van my projekte. Tans, as daar ’n skenking of donasie is in ander dorpe waar daar nie ’n afsetpunt is nie, moet hulle dit na die naaste afsetpunt toe neem of ’n saamrygeleentheid vir die pakkie gereël word deur sosiale media.
As ’n organisasie – wat is julle behoefte(s)?
Om genoeg donasies en skenkings te ontvang, om die drie projekte aan die gang te hou.
Ons benodig veral:
- Finansiële skenkings
- Enige kruideniersware – enige vorm van voedsel, toiletware, skoonmaakmiddels, persoonlike higiëne items, groente en vrugte, vleis items vir Kersfees-projek, ens.
- Lekkergoed, skyfies en ander peuselhappies vir die Kersfees-projek
- Enige dierevoedsel vir honde en katte
- Enige klere, skoene en huishoudelike items
- Wol en breinaalde en hekelpenne vir die Dierekombersie-projek.
Enige ander items is ook meer as welkom.
Ek kan ook net noem dat van die dierekombersies gemaak word deur die behoeftige gesinne en bejaardes. Die publiek kan ook betrokke te raak deur te help met kombersies te brei of te hekel. ’n Volledige kombersie is 1,2 m x 1,2 m of hulle kan blokke van 30 cm x 30 cm maak.