Jou eie kleinteater
BOOMSLOPING - geskryf en voorgelees deur Albert Klopper
JOU EIE KLEINTEATER is ‘n nuutskepping van Cordis Trust waar digters hul eie digwerk of prosa voorlees. Waar moontlik word beelde geskep en as ‘n ‘teaterproduksie’ aangebied. Deur hierdie inisiatief skep Cordis Trust die geleentheid vir digters om hul werk in die sonlig te plaas vir ander om te waardeer.
Ons luister en kyk na die voorlesing van Boormsloping, geskryf en voorgelees deur Albert Kloppers.
HOOP IN MY WINTERJAS SE SAKKE - Helena Mellet
In hierdie aanbieding van JOU EIE KLEINTEATER luister ons na die gedig, Hoop in my winterjas se sakke, geskryf en voorgelees deur Helena Mellet.
Helena het in ’n huis met baie boeke grootgeword. Haar boekwurm-ma het haar leer lees en skryf nog voor sy skool toe is. As kaalvoetkind in die hartjie van Namakwaland het haar fassinasie met mense en hul dinge begin. Op vyftien skryf Helena haar eerste gedig en is tot vandag toe verknog aan poësie. In 2007 matrikuleer Helena by Hoërskool Lutzville waarna sy BA Taal en Kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer. Sy voltooi ook ’n kursus in grafiese en webontwerp en werk vir drie jaar in die industrie. Helena en haar man verhuis in 2015 na Robertson waar sy betrokke raak by die familiebesigheid, Stella’s Kennels & Cattery. Hier leef sy haar liefde vir die natuur uit en skryf wanneer die inspirasie haar beetpak. Van haar kortverhale en gedigte is al in verskeie bundels gepubliseer. Ink skryf in Afrikaans benoem haar jeugverhaal, Bessie, as kortverhaal van die jaar in 2017. Met die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie was sy al twee keer ’n finalis en haar debuutdrama, Man op die maan, is in Desember 2019 uitgesaai.
Sy is ’n stil mens, want haar oë en ore werk oortyd. Sy glo dat elke oomblik van die dag ’n storie of gedig inhou wat wag om geoes te word. Sy skryf oor mense en mensdinge, oor die lewe en al sy kinkels en koekerasies. (BIO – LitNet)
Stef Kruger is ‘n Afrikaanse liedjieskrywer, musikant en abstrakte skilder. Hy het al meer as 400 liedjies geskryf, waarvan verskeie treffers is. Van sy bekende liedjies sluit in Pennies op die spoor, Grassade in die wind en Tussen jou en my. Kunstenaars soos Dozi, Bobby van Jaarsveld en Jannie Moolman het al van sy liedjies opgeneem. Kruger was vir 25 jaar lank verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermaaklikheidseenheid waar hy tromme gespeel het, maar het ook sy musiekeksamen op die dwarsfluit afgelê. Hy het verskeie pryse vir sy werk ontvang, waaronder Vonk Musiek se toekenning as beste liedjieskrywer van die jaar asook Die Orde van die Goue Pen, ‘n toekenning vir buitengewone bydrae tot die bevordering van Afrikaans in 2012. Verskeie van sy liedjies is ook in die nuwe FAK-sangbundel opgeneem. JY word voorgelees deur Stef en die lied as agtergrond musiek.
Brandbos, ‘n gedig opgeneem in Marius Nigrini se digbundel, Nog ‘n stomp op my vuur.
Vuur word dikwels in die bundel aangewend as metafoor om verganklikheid en sterflikheid uit te beeld. Poëtiese hulpmiddels soos vergelykings en enjambemente word vernuftig gebruik. Die sentrale fokus deur al die Afdelings figureer die innerlike onvermoë van die digter om die emosionele gewaarwordings van menswees, die aftakeling van sy liggaam, asook die verdriet wat verbrokkelde verhoudings meebring te aanvaar.
JY IS deur die bekende digter, Margaret Cordier, word voorgelees deur Johan Allers. Margaret Cordier is gebore 28 April 1962 en het haar vormingsjare gehad in Alexanderbaai. Haar liefde vir skryf begin op ’n vroeë ouderdom tydens haar laerskooljare. Van haar skrywes word in die skoolkoerant gepubliseer en sy word in haar hoërskooljare aangemoedig deur o.a Anna Neethling Pohl. Sy neem gereeld met sukses deel aan redenaarskompetisies en kunswedstryde en beklee leierskapposisies op laer- en hoërskool. Sy matrikuleer aan Rustenburg Hoërskool en voltooi haar tersiêre opleiding by UP en Unisa.
In 2021 word haar debuutbundel, Buigbreek, deur Cordis Trust gepubliseer. In 2023 ontvang sy die Orde van die Beiteltjie.
In hierdie aanbieding van JOU EIE KLEINTEATER luister ons na die gedig, Ma, geskryf en voorgelees deur Azette Wiesner. Azette het nog altyd graag die poësie gelees van enkele Afrikaanse digters, en Afrikaans was een van haar vakke op universiteit. Haar skryfstem, gebore uit haar eie intense gevoelswêreld bied vertroosting aan duisende mense wat sy aanraak met temas oor die pyn van rou, die dood en die onbeskryflike verlies van ‘n geliefde. Sonder enige sentimentaliteit en in gewone taal. Toeganklike taal met universele waarde.
Die gedig – As ek bly, sal jy – geskryf deur Mardene Marais is getoonset en gesing deur Petronel Baard. Hierdie besonderse lied is deel van die produksie, ‘n Blom vir elke vrou, wat voorheen opgevoer was by die KKNK.
Ons luister na WENTELBAAN, geskryf, voorlesing en sang deur Corrazerwas (Cordier de Beer). Die talentvolle digter, liriekeskrywer en sanger, Cordier de Beer, is ook bekend as Corrazerwas as musiekkunstenaar. Hy is ’n woordmeester sonder weerga en sy werk word deur Karen Zoid vergelyk met sangers soos Koos du Plessis. Sy musiek is tydloos en elke lied is ’n gedig uit eie reg. Cordis Trust, Afrikaanse Woordkunsakedemie 2024, het die Orde van die Beiteltjie toegeken aan Cordier vir volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns veral deur lirieke en sang. In die tydskrif, NASKRIF, vertel hy: “Om hoe ek die lewe beleef en wat binne my is buite te kry deur die ontasbare tasbaar te maak d.m.v. musiek, bly my grootste dryfveer. Daar is niks so lekker soos om wat ek ervaar om te skakel in klank en dit alles te sien ontvou nie. Dit is altyd ‘n voorreg.” In hierdie onderhoud skryf Nico Schamrel: ‘Ek wil graag die temas van sy musiek beskryf as verganklikheid, menslike verhoudings se dinamiek en broosheid, die krag van herinneringe en drome, terwyl hy deurentyd ’n skerp insig wys in die menslike kondisie. Dit is luistermusiek. Dit is ook musiek wat uit die hartkamers kom van ’n vrye boerklong wat oor vlaktes sing, wat nederig met die wuif van sy boshoed jou sal groet en sy vingers oor snare streel terwyl die Afrikason met kitaarsang in vlamme ondergaan.’
Logan Adams lees haar gedig, Só unfair, voor uit haar digbundel, TUSSEN STILTE. Tussen stiltes is daar dikwels roeringe, klanke. Die lewe wek wanklanke; dood, pyn, verwerping. Maar die lewe bring ook tussen al hierdie emosies stille aanvaarding, liefde. Hierdie bundel sny baie naby aan die skrywer se lewe en geliefdes. Sy vra vrae, bepeins en uiteindelik, tussen al die stiltes en stilbly, kom sy by die punt wat saakmaak: sy gaan nie meer stilbly nie, want – ’n mens moet wys raak. Logan Leigh Adams is op 18 September 2002 in die Paarl gebore. Sy woon in Amstelhof Paarl. Hierdie is haar tweede boek. Haar eerste boek, Die Nood Roep, het sy in Julie 2021 vrygestel. Logan het ook haar eie produksie – Maskers. Sy studeer Bcom Algemeen by UWK en doen tans gemeenskapswerk. Sy is ook ʼn radio-omroeper en wil graag advokaat wees vir vroueregte soos weerspieël in haar digbundel, TUSSEN STILTES.
VANAAND KAN EK NIE BID NIE is geskryf en word voorgelees deur Margaret Bennett. Margaret is bekend as digter en omroeper. Alhoewel sy voltyds werk, rus haar belangstelling by dig en skryf. Sy woon in die pragtige Namibië.
BY DIE DOOD VAN WOORDE deur die bekende digter, Margaret Cordier, word voorgelees deur die digter. Margaret Cordier is gebore 28 April 1962 en het haar vormingsjare gehad in Alexanderbaai. Haar liefde vir skryf begin op ’n vroeë ouderdom tydens haar laerskooljare. Van haar skrywes word in die skoolkoerant gepubliseer en sy word in haar hoërskooljare aangemoedig deur o.a Anna Neethling Pohl. Sy neem gereeld met sukses deel aan redenaarskompetisies en kunswedstryde en beklee leierskapposisies op laer- en hoërskool. Sy matrikuleer aan Rustenburg Hoërskool en voltooi haar tersiêre opleiding by UP en Unisa. Chris Brunette het ’n groot rol gespeel in die aanmoediging om gedigte te skryf en dit in te stuur vir plasing op Litnet. Sy skryf oor haar belewenisse en oor ervarings op haar lewenspad. In 2021 word haar debuutbundel, Buigbreek, deur Cordis Trust gepubliseer. In 2023 ontvang sy die Orde van die Beiteltjie. Haar eie siening oor waarom sy skryf/dig: “Om te dig het vir my die joernaal van my lewe en groei geword waar ek deur my liefde vir woorde my gevoelens en indrukke van ‘n veranderende wêreld weergee in die vorm van verse deur dit wat vir my ingegee is. Digkuns is vir my ‘n geleentheid om geinternaliseerde lewenswaardes, ervarings en toekomsverwagtings uit te druk tot dieper insig en veelvlakkige sigbaarheid.”
DROOMVERLORE - geskryf deur Antia van der Walt
Anita van der Walt se kinderjare begin in Carolina en voltooi haar skoolloopbaan by Florida Hoërskool. Sy het begin dig toe haar dogter in 2012 oorlede is. Alhoewel sy nog altyd wou dig het haar emosies na haar dogter se dood spontaan in haar digkuns begin vloei.
Sy het al in verskeie digbundel gepubliseer, o.a. Inkskryf, die GHA se Suiderland, en Die Nuwe Era Groot Verseboek om ’n paar op te noem.
Haar eerste digbundel het in 2023 die lig gesien nadat sy in 2022 by die GHA ’n boekprys gewen het om haar bundel te kon publiseer.
Sy is tans besig om aan haar tweede bundel te werk.
Ons lees die gedig van Anita van der Walt voor – Skeppingprag. Anita van der Walt se kinderjare begin in Carolina en sy voltooi haar skoolloopbaan by Florida Hoërskool. Sy het begin dig toe haar dogter in 2012 oorlede is. Alhoewel sy nog altyd wou dig het haar emosies na haar dogter se dood spontaan in haar digkuns begin vloei. Sy het al in verskeie digbundel gepubliseer, o.a. Inkskryf, die GHA se Suiderland, en Die Nuwe Era Groot Verseboek om ’n paar op te noem. Haar eerste digbundel het in 2023 die lig gesien nadat sy in 2022 by die GHA ’n boekprys gewen het om haar bundel te kon publiseer. Sy is tans besig om aan haar tweede bundel te werk. Haar gedig, Droomverlore, verskyn by LitNet saam met ander gedigte.