Lee-Ann Coetzee Noemdoe
Die nagtegaal van die Kango-Grotte
Dokters het vir haar gesê dat sy waarskynlik nooit sal kan sing nie en dat sy met ’n hees stem sal praat, maar Leigh-Ann Coetzee-Noemdoe het almal die teendeel bewys.
Coetzee-Noemdoe (41) wat reeds vir ongeveer 35 jaar ’n toergids by die Kangogrotte buite Oudtshoorn is, het onlangs op Facebook en TikTok opslae gemaak na daar ’n video van haar geplaas is waar sy in een van die kamers in die grotte sing.
“Die dokters het op laerskool vir my gesê dat ek vratte op my stembande het en dit het veroorsaak dat ek nie regtig kon praat nie. My ma en ouma het dit ook gehad. Ek het twee operasies gehad om dit te verwyder.”
Volgens Coetzee-Noemdoe het hulle eendag ’n leesoefening in die klas gedoen toe die onderwyser vir haar gesê het dat sy ’n melodieuse stem het.
“Ek het gedink dit is ’n belediging, maar ek het nie eintlik geweet wat dit beteken nie. Daarna het ek meer selfvertroue begin kry. In st. 6 het ek in die bad gesit en sing toe my ma verbaas na my toe kom en vir my sê dat ek baie mooi sing. Ek het toe ook ’n solo gekry om te sing.
“Ek was in Bridgton Sekondêr op skool en het Duits as ’n ekstra taal gehad. Ek doen dus toere vir Duitse toergroepe. Ek het vir hulle gesing omdat ek nie heeltemal so sterk was in die taal nie en gehoop het dat hulle dalk ’n ekstra spesiale ervaring kan hê as ek sing. Daarna het Duitsers vir die singende toergids begin vra.”
Sy vertel dat die Duitsers, jonk en oud, lief is vir opera en dit geniet. Dit is deel van hulle kultuur. Sy kry self soms ’n knop in die keel wanneer sy die toeriste se reaksie op haar sopraanstem sien.
“Hulle waardeer my sang en leef hulle in in die oomblik. Sommige raak bewoë en dit laat my ook emosioneel voel.”
Coetzee-Noemdoe sê sy is eintlik ’n baie skaam persoon en sing nie vir al die toergroepe nie.
“Ek doen dit net voor mense waarmee ek gemaklik is. Ek sing nie eens voor my kollegas nie.”
Wil sy graag optree en is sy op soek na so ’n geleentheid?
Alhoewel sy nog skaam is, weet sy dat sy ’n besondere sopraanstem het. Sy sing veral Ave Maria vir die toeriste, omdat hulle vertroud is met die lied. Om dié rede wil sy graag die geleentheid ontvang om voor ’n gehoor op te tree. Sy glo dat sy met goeie opleiding haar stem nog beter kan benut.
Dit is juis hier waar ons met deernis ingryp. Met die hulp van die sanger Petronel Baard wat bereid is om Lee-Anne te ontmoet en ’n moontlik optrede te reël, word ’n geleentheid geskep om nuwe talent te ontgin.
Sy word in Huisgenoot beskryf as die toergids met ’n stem soos ’n nagtegaal.
Haar nootvas sopraanstem is suiwer, meesleurend en vol emosie. Tydens my gesprek met haar kan ek haar borrelende energie aanvoel en die opgewondenheid in haar stem hoor.
Lee-Ann het ’n Godgegewe engelstem wat mens stilmaak en jou hartkamers vul. Sy verdien ’n staande applous en erkenning vir haar sangtalent.