SONSTORIE - 'n storie van hoop
Cordis Trust het ’n splinternuwe en vars uitdaging aan die voete van twee bekendes gelê – om ’n filmvers-produksie te skep wat nie net die woordkuns in die kollig plaas nie, maar hoop sal bring vir elke kyker.
Hierdie produksie het meer as drie maande geneem om gestalte te kry en die skep daarvan het elke greintjie kreatiwiteit vereis.
In medewerking met Cordis Trust (wat ook vanjaar ’n kwarteeu se enorme bydrae tot Afrikaans vier), is ’n eiesoortige en uiters betekenisvolle filmvers-produksie geskep wat Afrikaanse woordkuns, musiek en liriek werklik murgdiep aanspreek. Vyf-en-veertig minute se gespierde woordkuns – saamgestel deur Dr. Fanie Marais, Nico Schamrel (skrywer en uitgewer) en digter en liriekeskrywer, Francis Grobler.
Die versfilm-produksie, getiteld Sonstorie – ’n storie van hoop, is saamgestel uit ‘n prosastuk (voorgelees deur Richard van der Westhuizen); poësie-fragmente van verskeie digters (voorgelees deur Johan Allers); kort filmverse (deur Francis Grobler) en vyf vollengte liedjies wat projek-spesifiek geskryf is. Die liedere is vars en oorspronklik en word gesing deur Dozi, Anja Steyn, Stiaan Reynierse, Steffie le Roux en Fran Prins. Die inhoud is meesterlik vervleg met ‘n onderliggende boodskap van hoop. Sonstorie beloof om in die hart en psige van elke liefhebber van woordkuns en musiek te resoneer, lank nadat die gordyne gesak en die laaste klanke weggesterf het.
Met hoop, deernis en die bevordering van Afrikaanse woordkuns, as die ruggraat van Cordis Trust, vervat hierdie filmvers-produksie die talente en stemme van beide gevestigde en splinternuwe sangers en woordkunstenaars.
Die oorhoofse doel van hierdie film is om opnuut ‘n dringende en vars bewustheid van hoop, in alle opsigte, aan die kyker en hoorder te bring, ondanks die talle daaglikse uitdagings waarmee elke mens gekonfronteer word. Die film talm veral by die skeppingskrag en psige van die woordkunstenaar; die eindelose wipplank van emosies en die vrymakende krag van ink as skuiling teen die swaartekrag van depressie.
Sonstorie skop af met ‘n metaforiese prosastuk gevolg deur poësie-insetsels en ‘n lied Drieankerbaai, waarin die wroegings van Ingrid Jonker aangespreek word maar ook universeel toepaslik is vir elke leefling. Die lied, Liddie my Dreamer, deur sanger Stiaan Reynierse benadruk die geweldige realiteit van depressie, waarna die gewig stelselmatig lig met die ontwikkeling van die storielyn. Deurgaans word liedere, poësie en filmvers-insetsels aangewend wat woordlangs ontknoop en uiteindelik eindig in ‘n volverhaal van hoop met die afsluiting van die temalied, Sonstorie, deur Dozi.
Hierdie kragtige produksie is uitsluitlik geskep om ‘n betekenisvolle boodskap van hoop aan Suid-Afrika te bring; om die vlae van Afrikaanse woordkuns hoog te laat wapper en Afrikaans, ons moedertaal, te vier.
Hoop skiet dikwels wortel in ‘n groeimedium van ingrypende lewensomstandighede wat grens aan wanhoop. Hierdie produksie is gegrond op die opstel van n sestienjarige skolier en spruit voort uit die lewensdruk van iemand wat smag na die lig en warmte van die son as antwoord. Woordkunstenaars word ingespan om die realiteite te laat heenwys na hoop vorentoe.
Die film word ook vertoon as afsluiting van die ‘Inniebos-boekefees’ tydens die Natsteen-naweek in Augustus, in Kaapschehoop. Die produksie sal egter teen die einde van April reeds gereed wees vir vertoning.
Ons wil die vlae van Sonstorie graag in elke uithoek van ons land hys en daarom versoek ons dat die organiseerders van feeste dit sal oorweeg om hierdie produksie in te sluit. Die produksie word gratis verskaf, en indien jou platform ‘n wins daaruit kan genereer, verleen ons die toestemming om dit so aan te wend.