Sonstorie
Ons is almal reisigers in ʼn tydsbestek en meesterplan wat ons lewensstorie skryf. Daar kom mense en gebeure op ons pad wat fragmente van onthou skep. Sommige kom op jou pad en in jou hart en bly daar. Hierdie storiereis is ʼn uitvloeisel van die skryfwerk van ʼn jong dogter wat mense en gebeure op ʼn besondere wyse ervaar en neergeskryf het. Sonstorie (2018), ʼn samestelling uit Woordpalet wat geskrifte van Mardene Marais bevat, as hooftema is gebruik om skrywers/digters aan te spoor tot deelname aan ʼn temareeks van ses: Gesigte in die spieël, Kom ons droom. Liewe Ma, Speeltoneel, Wending en Om te leef. Dit het in 2019 verskyn voorspruitend uit wye deelname. In 2020 is ʼn keur van gedigte as Sonstorie-digreis gepubliseer met die oog op voorlesings. Hierdie publikasie spruit voort uit die behoefte om die stories uit Sonstorie en uit die temareeks wyer bekend te stel.
Fanie Marais Samesteller | 27 November 2021
Sonstorie – ‘n Storie uit die hart: Kubervertoning met Petronel Baard en Ilse Oppelt
Die eerste virtuele uitsending en Lang Vrou produksie oor die verhaal en mense van Cordis Trust, was “Sonstorie – ‘n Storie uit die hart uit”. Mardene Marais het in haar (te) kort lewe ‘n enorme nalentenskap vir Afrikaanse woordkuns gelos en a.g.v. haar gepubliseerde geskrifte, geïnspireer. Soos ‘n vader se woorde aan sy dogter en haar woorde oor die lewe en die dood mekaar weerklink, het Petronel Baard en haar jarelange vriendin – die bekroonde skrywer en aktrise, Ilse Oppelt – met groot deernis hierdie besonderse woordkuns deur voorlesings en toonsettings ge-eggo. ‘n Storie uit die hart wat spreek tot baie harte en bly inspireer lank na die laaste note weggesterf het.
Sonstorie is ‘n binnereis van ‘n tienerdogter op soek na lig en warmte in die buiteruim om van die koue van die hart te ontsnap. Die son skyn op alle mense, maar die warmte dring net in sommige in wat dit weerkaats na ander. Die meerderheid mense soek na die warmte van ander, maar vind dit nie. Hulle verkluim in die hart.
‘Jy was die somer, die helder lig met dagbreek, omgord met kleure, soekend na ‘n wêreld waarin daar groter sin is.’ – Fanie Marais