Victor Fredericks
Plaaswerker tot Crescendo
Victor van Wolseley woeker met warm woorde en sang – deur Christina Kleynhans
Buitengewone gewone mens
Ek het Victor ontmoet in 2021 terwyl hy besig was met verskeie opnames. Sy storievertelling is uitmuntend – spontaan en sonder voorgee, net soos hyself, sout van die aarde. Hy is ’n mens wat familiewaardes hoog aanslaan.
Hoe sou jy jouself beskryf?
Laid back, maar doelgerig, ’n mens wat glo aan goeie waardes en eerlikheid. ’n Gesinsman wat daarin glo om wat ek oor die jare geleer het, terug te ploeg in my kinders of aan mense wat belangstel om ’n sukses van hulle lewe te maak.
Victor, vertel ons lesers oor jou komvandaan?
Ek is gebore in die somer van 1974 op die agste November. My ma, Jannet en pa Willem, het mekaar ontmoet toe hulle beide in die Kaap gewerk het; ’n paar jare later verhuis hulle na Wolseley. Hier is hulle getroud en het hulle lewe op die plaas voortgesit. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, een dogter en vier seuns. Die tweede seun is egter in sy tweede lewensjaar oorlede.
Ek het my skoolloopbaan in Wolseley voltooi en gematrikuleer in 1997 aan Wolseley Senior Sekondêr.
Ek was bekend gestel aan Patrick Pietersen wat die eerste voorsitter was van die Afrikaanse Skrywers Vereniging. Hy het die boeke Aankoms uit die skemer en Amandla Awetu geskryf. ’n Jaar na ons ontmoeting, sterf hy tragies in ’n motorongeluk en by sy begrafnis ontmoet ek Dr. Diana Ferrus, Heindrich Wyngaard, Willem Fransman jr., Elijas P. Nel, Dr. Willa Boesak en nog baie ander skrywers.
Daar by sy graf lees ek ’n gedig voor wat ek aan hom opgedra het – Jou son het gesak. By die geleentheid nader Diana Ferrus my om haar gedig van Sara Baartman te toonset. So moes ek baie ander digters se werk toonset en dit was die begin van my loopbaan as sanger en skrywer wat oor dertig jaar strek.
Victor, behalwe sang, is jy ’n bobaas storieverteller. Wat is jou boeke se name en waar kan mens dit in die hande kry?
My liefde vir stories kom beslis vanuit my omgewing en my mense. Dis ’n feit dat alles wat gebeur het of nog moes gebeur, altyd vooraf gegaan was met voorbodes of profesieë of sommer net spekskiet. Dit het my baie dae aan die ou ooms en tantes se lippe laat hang. Ek word toe genooi na die televisieprogram op KykNet Oppiestoep stories. Ek en Kobus Wiese die, oud-Springbok rugbyspeler het die tafel gedeel.
Ek skryf my eerste boek in 2001, getiteld Ons stryd was ook in Afrikaans – ’n poësiebundel wat die struggle van ons mense uitbeeld in Afrikaans. In 2020 skryf ek my eerste kortverhaal bundel, getiteld Voetpad oor die Witzenberg. Die boek was geskryf en uitgegee in die hartjie van die pandemie toe COVID gemaai het onder ons mense en vir baie was die lees van die boek ’n welkome geselskap toe baie in afsondering moes leef. Die boek bevat stories soos die Stryd van Johaans, die draadloos pastor – wat sy preekbeurt verloor het as gevolg van oormatige gebruik van nagmaalwyn.
In 2023 verskyn my derde boek. Die boek was opgedra aan my oorlede pa wat my aan die kunste en poësie bekend gestel het. Laat Pa Vertel is ’n boek vol verhale en stories uit my kontrei. Die boek is versorg en gedruk deur Die Stigting en Bemagtiging deur Afrikaans, ’n organisasie wat al diep spore getrap het en steeds die vlag vir Afrikaans hoog hou. Hierdie boek is net deur my beskikbaar.
Op ’n ander noot: Kom ons praat oor jou sangloopbaan.
Op skool was ek een van die stigters van ’n band wat R&B gesing het in die tyd toe Boys To Men nog op almal se lippe was. As die jongste lid moes ek voorsing en daar het die liefde vir die verhoog begin. Reeds vroeg in my jong lewe was ek betrokke by die kerkkoor, Sondagskool en later in die gemeentekoor en mannekoor.
Op hoërskool byt die skryf van my eie liedjies en baie van hierdie liedjies het ek later gesing. Ek het begin met R&B en later het ek Afrikaans geskryf en sing. Sedertdien sing ek net Afrikaans. My enkelsnit, Boland Blues, is my eerste musiekstuk wat aanlyn uitgegee is. Onlangs is ’n gesamentlike album, getiteld A Decade Of Music, uitgegee. Agri Got Talent is ’n program wat deur die departement van Landbou aangebied word en bied ’n platform aan landbouwerkers om hulle talent ten toon te stel. Tien jaar later word so ’n album uitgegee en ek was in 2018 ’n finalis in die program.

Hoe sou jy jou musiek beskryf? Ek tel ‘n ongewone genre op – is dit blues?
Blues is ’n genre wat na aan my hart lê en daarom loop daar altyd so ’n blues-lyn deur my musiek. Maar pop en my eie sarsie van Afrikaans – en as ek sê my Afrikaans wil ek geen genre aan heg aan my musiek nie. Ek is ’n storieverteller en so wil ek my musiek doop – daardie eie identiteit gee. Mens moet op ’n reis geneem word deur my ervarings.
Onlangs het jy deelgeneem aan die ATKV-Crescendo projek. Vertel ons van jou reis met jou sang tot waar jy nou is?
Hierdie mentorprogram was destyds ’n kompetisie en is latere jare na ’n mentorskap verander om almal ’n gelyke kans te gee om die Afrikaanse musiekmark te betree ten einde die nodige vaardigheidsontwikkeling in die industrie aan te leer. So word ek ook deel van die mentorprogram. Ek het my liedjie binne drie dae geskryf, getiteld: Blackberry Gin en juice. Die liedjie het my in die top tien van ATKV-Crescendo laat beland. Later vanjaar sal die wenner aangekondig word, maar tussendeur word daar konserte gehou deur die mentorprogram en dit kry baie positiewe aandag. Die konserte word gehou by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch.
Wat is jou boodskap aan diegene wat graag wil sing en liedjies skryf?
As jy ’n droom het, laat niemand of niks jou van daardie droom afwyk nie. Omstandighede kon my nie kniehalter nie en geen mens of omstandighede moet jou van stryk bring nie. Wees nederig, maar driftig om meer te leer oor wat jy wil doen. Maak seker dat jy met eerlike mense omgang het en dat jy nie uitgebuit word nie.
Volg asseblief Victor Fredericks se reis met ATKV Crescendo.
Facebook: ATKV-Crescendo | Instagram: ATKV-CRESCENDO
Hoe kan mense jou volg en kontak op FB/Instagram/e-pos?
FB: Victor Fredericks | Instagram: 071639707 | Epos: fredericksv25@gmail.com