Toekennings - 2024
Dit is deel van ons doelwit om erkenning te gee aan deelnemers wat ‘n verskil maak – welke in geestelike werk, deernisprojekte of bydraes tot die teater en woordkuns.
ORDE VAN DIE GOUE PEN 2024 – Nico Schamrel
vir sy buitengewone bydrae tot die handhawing en bevordering van die Afrikaanse woordkuns deur daadwerklik en sigbaar geleenthede tot deelname en publikasie te skep, deur deernisprojekte bewustheid te skep en ’n verskil te maak sowel as om lees by die jeug en volwassenes aan te moedig. Nico Schamrel is die stigter van Ns Skrywershuis, ’n uitgewer, aanlyn boekwinkel; die skepper van die voortreflike gratis aanlyn-tydskrif, NASKRIF; fasiliteerder van geleenthede aan skrywers en digters; voorlesings uit boeke; projekte vir bewusmaking van die gevare vir boere (onder andere deur drie publikasies getiteld Gebed vir ’n Boer); sy bydrae tot die Afrikaans 100-projek; en vir deurlopende hulp aan woordkunstenaars en medewerking met ander organisasies wat Afrikaans bevorder.
Orde van die Goue Pen 2024 – Anne Marie Beukes
Anne-Marie Beukes, goed bekend en eweneens gewaardeer vir haar ewewigtige en diplomatiese benadering en versiende bestuursvermoë, is steeds met hart en verstand betrokke by Afrikaans en taalsake. Sy dien voort in die direksie van die Afrikaanse Taalraad, is betrokke by die Afrikaans100-projek vir die eeuviering van Afrikaans as amptelike landstaal, en is een van die beskermvroue van Afrikaans.com wat gekies is as “voorlopers op hul gebied” wat die “viering van Afrikaans se eiesoortigheid, inklusiwiteit en nut” inspireer. Anne-Marie Beukes se versiendheid, insig en toegewyde passie vir hervorming lei tot groter inklusiwiteit en ‘n breër basis van verteenwoordiging uit die Afrikaanse taalgemeenskap.
ORDE VAN DIE GOUE PEN 2024 – Elzilda Becker
word toegeken ter ere van haar besonderse en volgehoue bydrae tot die Afrikaner-diskoers waar sy skrywers, skeppende kunstenaars, musikante, sakepresteerders en interessante en eksentrieke mense in hul pogings inspireer en vereer deur DEKAT en DEKATv. As vlagdraer van hierdie eksklusiewe nisppublikasie/webtuise en TV-program, slaag sy met haar uitsonderlike skeppende vermoë en ondernemingsgees daarin om inhoudelik, sowel as visueel, deurgaans ’n hoë standaard te handhaaf. Onder haar leiding, word individue, radikale verhale en ander aangrypende onderwerpe van wesentlike belang vir die breër Afrikaanse gemeenskap vindingryk onder die loep geneem en word sy allerweë hoog geag vir haar voortreflike bydrae tot die Afrikaanse kuns- en kultuurskatkis.
ORDE VAN DIE BEITELTJIE 2024 – Francis Steyn Grobler
Vir haar bydrae as liriekskrywer, gepubliseerde digter, skrywer en woordskepper. Haar ink verskyn in verhoogstukke, TV-teksskrywer, persvrystellings vir musikante en skrywers; publieke toesprake, stem-opnames en storielyne vir visuele digkuns. Francis word aangewys as die algehele wenner van die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans (GHA) se digkompetisie waar die NP van Wyk Louw-prys aan haar toegeken word en tien van haar pennevrugte word opgeneem in Stemme uit die Suiderland XIV. As liriekskrywer behaal sy goue status triomf met Toe Die Engel Aan Die Water Raak, opgeneem deur die sangers Dozi en Nadine. Francis het ook opgetree as TV-aanbieder vir die gesogte kunsprogram, DEKAT-TV op SABC2 en voer steeds vryskut-onderhoude met kunstenaars en skrywers tydens boekbekendstellings. Haar sielswoorde in dig, poësie en liriek is van onskatbare waarde tot die Afrikaanse kuns en kultuur.
ORDE VAN DIE BEITELTJIE 2024 – Cordier de Beer
vir volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns veral deur lirieke en sang. Cordier de Beer, ook bekend as Corrazerwas op die verhoog, bring digterlik die klanke en ritme van Afrika, jazz, raggae en die Bosveld na vore in musiek wat as kontemporêr en nieumodies aanklank vind. Hy slaag daarin om musiek en digkuns te vervleg en voeg sodoende ’n diepgang met besonderse betekenis aan sy werk. Sy musiek- en digkuns leuen oor na ballades en die musiek en liriek leef in simbiose met mekaar. Deur met musikante van vier verskillende etniese agtergronde en lande te werk, het hy die Suid-Afrikaanse ritme internasionaal blootgestel in die gesamentlike lied Beautiful Life. Hy slaag daarin om die ontasbare werklik te maak. Cordier word deur Karen Zoid geprys as ’n talentvolle sanger.
Orde van die Beiteltjie 2024 – AJ Opperman
toegeken vir sy onteenseglike en toegewyde bydrae, gegrond op deeglike navorsing, tot die bewusmaking van die rol van Suid-Afrikaanse kunstenaars oor dekades heen en die eiesoortige en uitsonderlike aanbieding daarvan. AJ Opperman word ook geëer vir sy bydrae tot insiggewende en deeglike joernalistiek, resensies en die kunste as joernalis by Netwerk24.
Vrouemaand 2024 Ererol
Vir bydraes tot die trust se kernstrewes en bekronings – toegeken aan 25 uitsonderlike vroue.