Jan Bloukaas (gebore Jean du Plessis) is 'n Suid-Afrikaanse musikant en kletsrymer. Sy album Lewe word in 2019 vir die Suid-Afrikaanse Musiektoekenning vir beste Afrikaanse popalbum genomineer. Hy begin sy skoolloopbaan by Laerskool De Tyger en matrikuleer aan die Hoërskool Tygerberg. Breinkanker is in 2022 by Du Plessis gediagnoseer.

‘GOD KAN’ DIGBUNDEL WORD BOODSKAP VAN HOOP

Jean het vir Nico Schamrel van Ns. Skrywershuis genader aangaande ’n digbundel wat hy wil saamstel om verdere fondse in te samel vir sy liefdadigheidswerk ten opsigte van CANSA en hy het sonder om twee keer te dink, ingestem. Christina Kleynhans (digter) het hulle aanmekaar voorgestel en is deel van die ondersteuningsnetwerk.

Met die bystand van Cordis Trust, Ronel Dunn (teksversorger) en Bets Koen (teksversorger en tipografie) van PENdit.za, sal hierdie liefdadigheidsprojek lewend en volhoudend wees.

Die bundel sal nie net alleenlik uit gedigte en lirieke uit Jean se pen bestaan nie, maar boodskappe van hoop en inspirasie, huldeblyke en woordjuwele van verskeie bekende digters en kunstenaars.  Name soos Dozi, Storm, Stiaan Reynierse, Rudi Claase, Anton Goosen, Gaireyah Fredericks en Francis Grobler (digter en liriekskrywer) is van die kunstenaars wat met liefde en oorgawe bydra. Daar sal nog vele volg.

Die bundel word deur Ns. Skrywershuis en Cordis Trust geborg en gepubliseer en sal by ons aanlynwinkel beskikbaar wees.

Die universele tema is hoofsaaklik ‘God Kan’ en die lirieke van sy album sal ook in hierdie bundel verskyn.

Die bundel word in Oktober, Jan Blooukaas se verjaardagmaand, bekendgestel.